Ranteveld Plaas se Storie

Ranteveld Gasteplaas – Geskiedenis

Hendrik Petrus Grimbeek (gebore 16/12/1894) tree op 7 April 1925 in die huwelik met Paulina Johanna Roux (gebore 02/06/1899). Kort daarna koop Hendrik die plaas Hartebeesfontein 437, 18km buite Potchefstroom op die Paryspad. Toe hy en sy bruid daar aanland, was daar geen geboue of lopende water nie. Die eerste geboue, deur Hendrik self gebou, was van klip, en vir water moes daar geboor word.

Oupa Hendrik (oftewel Giffie, so gedoop vir sy kort humeur) het van niks af ‘n saaiboerery op die been gebring met aanvullende kuddes. Ouma Paula het op Rooipoort skoolgehou. Maandagoggende was sy met die donkiekar en kinders Rooipoort toe en Vrydagmiddae weer terug, oorgeslaap by ‘n nabygeleë plaas gedurende die week. Oupa Hendrik het mampoer gestook of eerder “Wittetjies” soos dit bekend gestaan het. Die klipgeboue en stookketel kan vandag nog op die plaas gesien word.

‘n Tradisie van die plaas was dat die Grimbeekfamilie, neefs, niggies, ooms en tantes op 1 Januarie elke jaar bymekaar gekom het op ‘n spesifieke plek op die plaas, genoem: die Nuwejaarsbos. Hul het met tente opgedaag en op Oujaar, gebraai, gedans en gekuier tot laataand. Nuwejaarsdag het hul van vooraf die feesvieringe laat vlamvat, krieket gespeel en sommer net lekker gekuier. Die Nuwejaarsbos bestaan uit Witstinkhoutbome wat oor jare heen so gegroei het dat dit ‘n natuurlike dak vorm wat geen sonlig deurlaat nie. Hierdie plek word ook as venue gebruik vir troues, veral as kapel.

Uit hul huwelik was ses kinders gebore. Etzard Johan Adolf Grimbeek (Mof, gebore 18/01/1927) was die oudste seun en het die plaas by sy vader geërf. Hy trou in 1950 met Lila Prinsloo. Pa Mof was ‘n skaap- en hoenderboer en ook die eienaar van ‘n perdryskool. Hy was ook lid van die SA-Boerperdtelersgenootskap. Ma Lila was ‘n musiekonderwyseres en koorafrigster tot en met haar aftrede.

Al vier hierdie voorouers is reeds oorlede.

Paulina Johanna Grimbeek (gebore 11/02/1967), jongste dogter van Mof en Lila en naamgenoot van ouma Paula, trou in 1989 met J.D. Aucamp. Paula erf die plaas na haar pa, Mof, se dood. Haar oudste sus, Marietjie, is in 2004 tragies aan kanker oorlede. Uit die huwelik van J.D. en Paula Aucamp word twee seuns gebore Dian en Zard. Hierdie seuns is die vierde geslag van die familieplaas.
Die finansiële naam van die plaas word in 2006 geregistreer as Ranteveld. Die huidige eienaars, J.D. en Paula, het die bestaande geboue gebruik vir die inrig van ‘n gastehuis. Die chalet en rondawel word verhuur as akkomodasie en ook as onthaalplek vir funksies en troues. Daarvandaan die naam Ranteveld Gasteplaas. Die plaas is geleë in die mooiste omgewing met ‘n verskeidenheid boomsoorte asook Suikerbosse. Lieflike klipkoppies en veld rond die prentjie af as ‘n bobaas bestemming!

Aanwysings

Ranteveld Bestemming

Aanwysings na die venue